Content area
Abstract
Die hoof- en eerste doelwit van hierdie studie was om ondersteuningstrategieë te ondersoek wat graad 3-grondslagfase-onderwysers in hul klasopset identifiseer en toepas, om sodoende gedragsbevoegdheid van leerders met aandagtekort/ hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) te bevorder. Die tweede doelwit was om gedragskenmerke van leerders met ATHV te identifiseer wat onderwysers se effektiewe onderrig beïnvloed en ondersteuningstrategieë benodig. Die derde doelwit was om te bepaal hoe leerders met ATHV se kognitiewe leerbehoeftes onderwysers se onderrig beïnvloed en om ondersteuningstrategieë daarvoor te identifiseer. Die vierde doelwit was om te bepaal hoe leerders met ATHV se emosionele en sosiale behoeftes onderwysers se onderrig beïnvloed en om ondersteuningstrategieë daarvoor te identifiseer. Die vyfde doelwit was die identifisering van effektiewe ondersteuningstrategieë tot gedragsbevoegdheid in ‘n grondslagfase-klaskamer, vanuit onderwysers se perspektief.
Hierdie navorsingsontwerp het ‘n kwalitatiewe benadering vanuit die onderwyser se ervaringsveld en natuurlike omgewing, naamlik die klaskamer, en die doel is om inligting te versamel. Ek het van ‘n gevallestudie met ‘n interpretivistiese perspektief gebruik gemaak. Drie skole in die ooste van Pretoria met hul graad 3- grondslagfase-onderwysers is doelbewus gekies. Ek het variasies van skole uitgesoek, naamlik ‘n groot staatskool wat parallelmedium is, ‘n klein staatskool wat parallelmedium is en ‘n groot privaatskool wat dubbelmedium is. Die skole wat gekies is, moes ‘n grondslagfase en graad 3-onderwysers hê en moes leerders met ATHV inklusief akkommodeer. Die ondersoek het gefokus op leerders met ‘n gemiddelde I.K., waar al die leerders tot dieselfde ouderdomsgroep behoort en inklusiewe onderrig in hoofstroomleerareas ontvang.
Die data-insameling en dokumentering het bestaan uit ‘n reflektiewe navorsingsjoernaal en semi-gestruktureerde fokusgroep-onderhoude met drie skole se Afrikaanse en Engelse graad 3-onderwysers in die onderskeie skole se personeelkamers. Ek het van ‘n diktafoon gebruik gemaak tydens die fokusgroeponderhoude en het ‘n klankopname van die onderhoude gemaak wat later in teks getranskribeer is. Die data-analise behels die opbreek van data in verstaanbare temas waar interpretasie plaasvind.
Bevindinge uit die studie dui daarop dat onderwysers die kurrikulums en uitkomste najaag en dat die leerders wat nie aan standaarde voldoen nie, uitval of kompenseer deur onbevoegde gedrag. My gevolgtrekkings van bevindinge is dat onderwysers die klem moet verskuif vanaf die leerder met ATHV se onbevoegde gedrag, na die aard van hierdie leerders se ondersteuning. Hierdie leerders kan met die nodige ondersteuningstrategieë hul volle potensiaal bereik en hul akademie op ‘n hoër vlak verwesenlik. Die selfdeterminasie-teorie handel oor die aktualisering van menslike potensiaal, ontwikkeling en welstand. Die selfdeterminasie-teorie beklemtoon drie basiese psigologiese behoeftes in mense se selfmotivering en gesonde sielkundige groei, naamlik die behoefte vir bevoegdheid (bekwaamheid), verhoudings (verwantskap) en selfstandigheid (outonomie).
Die studie beveel toepaslike ondersteuningstrategieë tot leergerigte, emosionele en sosiale gedragsbevoegdheid aan, sodat die onderrig- en leersituasie vir onderwysers en leerders met ATHV meer effektief kan wees indien hierdie ondersteuningstrategieë deur onderwysers geïmplementeer word. Skole en onderwysers wat leerders met ATHV akkommodeer sal baat vind by die praktiese aanbevelings wat in hierdie studie gemaak is.





