Content area
Abstract
Die navorsing wil vanuit ʼn studie van liturgie as veld binne die Praktiese Teologie die rol van ontmoetings binne die erediens en daaglikse kerkwees verken. Die navorsing fokus op drie ontmoetings: Eerstens, die ontmoeting tussen God en mens. Tweedens, ontmoetings met mekaar (waar lidmate deel word van mekaar se stories en lewenswerklikhede). Derdens, ontmoetings met die samelewing (die missionale gerigtheid van ons gemeentewees, waar lidmate in aanraking gebring word met die nood in ʼn stukkende wêreld en hulle gestuurdheid daarheen besef).
Die navorsing ondersoek die impak van hierdie ontmoetings op Christelike identiteit en gepaardgaande lewenswyse. Daar gaan vanuit die oortuiging te werk dat liturgie en lewe ten nouste verbonde is en die voorgestelde ontmoetings uiteindelik nie alleen lidmate wil behou nie, maar hulle leefstyl in Suid-Afrika wil vorm binne 'n voortgaande oorgangsproses. Dit is vanuit hierdie ontmoetings dat nuwe lewenswerklikhede moontlik word wat ʼn impak op die individu, gemeente en samelewing kan maak.
Die studie sluit empiriese navorsing, waar die eredienservarings (ten opsigte van die fokusontmoetings) van lidmate vanuit ʼn gemeente in die noorde van Pretoria, na afloop van die gemeente se primêre erediens en die impak daarvan op hul identiteit en lewe verken word, in. Met hierdie empiriese navorsing as hulpmiddel, verken die navorsing die belangrikheid van hierdie ontmoetings binne die erediens, met die doel om die lewensimpakterende potensiaal van die erediens en ons daaglikse kerkwees tot sy volle reg te laat kom.





