‘No subject is perhaps more important for the understanding of the Christian faith than the use of the Old Testament in the New Testament.’ (Snodgrass 1991 :209)Inleiding‘… the Old Testament is the greatest single influence in the formation of New Testament theology.’ (Lindars 1977 :60)
Die uitsonderlike hoeveelheid aanhalings van en verwysings 1 na die Ou Testament wat in 1 Petrus aangetref word (vgl. Carson 2007 :1015; Deterding 1981 :58–64) laat blyk dat die outeur van die brief die Ou Testament as uiters belangrik ag. Daar is reeds baie navorsing gedoen oor 1 Petrus se gebruik van die Ou Testament (vgl. byvoorbeeld Carson 2007 :1015–1044; Green 1990 :278–286; Phillips 2013 :97–378; Snodgrass 1978 :97–106). Eksegete gee egter min aandag aan die gebruik van die Ou Testament in 1 Petrus 1:2. 2 Soms word wel aanvaar dat die skrywer met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, Eksodus 24 in gedagte het. Die moontlikheid dat hy in 1:2 met al drie die voorsetselfrases, naamlik κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος en εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ na die Ou Testament verwys, 3 is nie na behore ondersoek nie. Daar word nie gelet op die feit dat Eksodus 19–24 ’n hegte eenheid vorm (vgl. Chirichigno 1987 :457–479; Davies 2004 :103; Sprinkle 2009 :17–34 en Wells 2000 :34–35), en dat Petrus 4 moontlik met die drie voorsetselfrases in 1:2 die een groot verbondsgebeurtenis (Childs 2004 :503) van Eksodus 19–24 aan die orde stel nie.
Uit die navorsing van Hays ( 1989 :9, 25–33), Beetham ( 2008 :17–20), Beale ( 2012 :29–40) en Phillips ( 2013 :66–68; vgl. ook Docherty 2020 :15–17; Porter 2006 :36–37) is dit duidelik dat die identifisering van verwysings na die Ou Testament deur Nuwe-Testamentiese skrywers ’n belangrike eerste stap is in die navorsing van Nuwe-Testamentiese skrywers se gebruik van die Ou Testament. Eers nadat ’n verwysing na die Ou Testament geïdentifiseer is, sou die skrywer van die gedeelte se teologiese en retoriese (vgl. Beale 2012 :42–43) gebruik van die Ou Testament byvoorbeeld nagegaan kan word. Die ondersoek in hierdie artikel word beperk tot hierdie eerste stap. Daar word ondersoek ingestel na die vraag of Petrus met die drie voorsetselfrases in 1:2 na spesifieke Ou-Testamentiese gedeeltes verwys.
In hierdie artikel word die drie voorsetselfrases in 1:2 eerstens binne die argument van 1 Petrus geplaas. Dit word gedoen deur aandag te gee aan ’n moontlike gedagtestruktuur van 1 Petrus waarna die drie voorsetselfrases in 1:2 binne die argument van die eerste gedagte-eenheid (die aanhef) van die brief aandag geniet. Tweedens word die drie voorsetselfrases in 1:2 opeenvolgens ondersoek en word gepoog om vas te stel of Petrus met elk van die frases spesifieke Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes in gedagte het. In die derde plek word nagegaan of die eerste lesers van die brief, indien Petrus in 1:2 na die Ou Testament verwys, hierdie verwysings sou herken. Ten slotte word tot ’n finale slotsom gekom.
Die grammaties-historiese model van eksegese wat in die gereformeerde tradisie beoefen word (vgl. Breed, Van Rensburg & Jordaan 2008 :45–53; Fee 2009 :29–132; Jordaan, Van Rensburg & Breed 2011 :225–258; Tolar 2002 :21–38), word in hierdie artikel gevolg. Daar word in die ontleding van 1 Petrus se gedagtestruktuur aangesluit by die metode van Coetzee ( 1988 :19–37) en Cotterell en Turner ( 1989 :230–256) (vgl. Breed 2022b :2).
Die drie voorsetselfrases in 1 Petrus 1:2 binne die argument van 1 Petrus
’n Gedagtestruktuur van 1 Petrus
Breed ( 2022a :2) toon aan dat dit moontlik is om 1 Petrus in agt gedagte-eenhede in te deel. Hierdie agt gedagte-eenhede kan soos volg uiteengesit word:
- Eenheid 1: Aanhef (1:1–2).
- Eenheid 2: Lofprysing (1:3–12).
- Eenheid 3: Geroepenes se heilige lewe (1:13–2:10).
- Eenheid 4: ’n Doelgerigte lewe voor die oë van ongelowiges (2:11–3:12).
- Eenheid 5: Verantwoorde optrede deur hulle wat deur Christus se lyding en oorwinning na God gelei is (3:13–4:6).
- Eenheid 6: ’n Lewe tot verheerliking van God in die lig van die wederkoms (4:7–11).
- Eenheid 7: Om te deel in Christus se lyding en aan sy heerlikheid (4:12–5:11)
- Eenheid 8: Slot en seënbede (5:12–14).
Skrywers (vgl. byvoorbeeld Achtemeier 1996 :80; Feldmeier 2008 :24) wys daarop dat verskeie konsepte of temas wat in die brief beskryf word, reeds in die aanhef van die brief aan die orde gestel word. In die ondersoek wat in hierdie artikel gedoen word, behoort dit in ag geneem te word dat Petrus met die drie voorsetselfrases in 1:2 waarskynlik reeds aan die begin van die brief spesifieke konsepte of temas wat hy in die brief uiteensit, aan die orde stel.
Die drie voorsetselfrases binne die argument van die brief se aanhef
Soos in ander Nuwe-Testamentiese briewe, asook in buite-Bybelse briewe (vgl. Stowers 1986 :20–21; Tite 1996 :47–56) stel Petrus ook in die aanhef van sy brief die skrywer van die brief en die geadresseerdes bekend en spreek hy seënwense uit. Die skrywer word kortliks in 1:1 bekendgestel en die seënwense word ook kortliks gedoen (vgl. Pt 1 1:2). Meer aandag word gegee aan wie die geadresseerdes is. Petrus beskryf die lesers in 1:1 as uitverkore [ἐκλεκτός] vreemdelinge [παρεπίδημος] van die diaspora [διασπορά]. 5 Hy meld ook in 1:1 waar die lesers hulle bevind, naamlik in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
Dit blyk dat Petrus in 1:2 deur drie voorsetselfrases, naamlik κατά saam met die akkusatief πρόγνωσιν, ἐν saam met die datief ἁγιασμῷ en εἰς saam met die akkusatiewe ὑπακοὴν en ῥαντισμὸν, verder uitbrei op dit wat hy in 1:1 gesê het. Schreiner ( 2003 :52–53) toon oortuigend aan dat die byvoeglike naamwoord, ἐκλεκτοῖς in 1:1, ’n besondere plek inneem in die aanhef, en dat daarom afgelei kan word dat die drie voorsetselfrases die goddelike verkiesing [ἐκλεκτός] in 1:1 van die lesers nader beskryf (vgl. ook Achtemeier 1996 :86; Williams 2011 :52).
Die voorsetsel κατά, word in 1:2 gebruik as ‘a marker of a relation involving similarity of process’ (vgl. Louw & Nida 1988 :778; Williams 2011 :52). Die verkiesing van die lesers verloop dus volgens [κατά] God die Vader se voorkennis [πρόγνωσις].
Die voorsetsel ἐν saam met die datief van ἁγιασμῷ, word in 1:2 gebruik om ’n instrument aan te dui (vgl. Louw & Nida 1988 :789). Dit is deur heiligmaking [ἐν ἁγιασμῷ] dat die verkiesing tot uitvoering gebring word (Achtemeier 1996 :86 en Williams 2011 :55–56). Deur middel van die heiligmaking wat die Gees bewerk [πνεύματος] (as subjektiewe genitief) word die lesers se verkiesing in tyd ’n werklikheid. Die skrywer maak met die frase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος in 1:2 duidelik dat die Heilige Gees op mense beslag lê en hulle aan God verbind sodat hulle, as God se eiendom, self ook heilig word (Feldmeier 2008 :58).
Petrus gebruik in 1:2 die voorsetsel εἰς saam met die akkusatiewe ὑπακοὴν en ῥαντισμὸν om doel aan te dui (vgl. Achtemeier 1996 :87; Louw & Nida 1988 :784 en Williams 2011 :57). Die doel van die verkiesing is dus eersten, gehoorsaamheid; en tweedens, besprinkeling.
Agnew ( 1983 :69–73) en Elliott ( 2000 :319) aanvaar dat die skrywer die genitief Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2 as subjektiewe genitief saam met beide naamwoorde, ὑπακοή en ῥαντισμός, gebruik. Die skrywer handel dus volgens hulle in 1:2 oor Jesus Christus wat gehoorsaam is, asook Jesus Christus wat besprinkel. Die feit dat die skrywer in die vorige twee voorsetselfrases in 1:2 oor die werk van God in die lewe van die lesers handel, gee ’n sterk aanduiding dat die derde voorsetselfrase oor die lesers se gehoorsaamheid en besprinkeling handel (Schreiner 2003 :54–55).
Soms word die genitief, Ἰησοῦ Χριστοῦ, verstaan as ’n objektiewe genitief saam met die naamwoord ὑπακοή en as subjektiewe genitief saam met die frase ῥαντισμὸν αἵματος (vgl. Grudem 2009 :103–106). Tereg sê Schreiner ( 2003 :55) dat dit baie verwarrend sou wees as Jesus Christus in ’n enkele frase as objektiewe én subjektiewe genitief dien (vgl. ook Achtemeier 1996 :87). Dit blyk beter te wees om die akkusatief, ὑπακοὴν in 1:2, selfstandig (geïsoleerd) van die genitief, Ἰησοῦ Χριστοῦ, te verstaan. Die lesers se goddelike verkiesing het hulle gehoorsaamheid ten doel. Met die voegwoord καί in 1:2, dui Petrus aan dat die goddelike verkiesing ’n verdere doel het. Hierdie doel beskryf hy met die frase εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ. Die genitief, Ἰησοῦ Χριστοῦ, behoort verstaan te word as ’n genitief van besit (Achtemeier 1996 :88). Die doel van die verkiesing is dus nie slegs die gehoorsaamheid van die lesers nie, maar ook hulle besprinkeling met Christus se bloed.
Dit is uit die voorgaande duidelik dat Petrus in 1:2 verder uitbrei oor die lesers se goddelike verkiesing wat hy in 1:1 vermeld het. Die verkiesing van die lesers verloop volgens God se voorkennis. Deur die heiligmaking wat die Gees bewerk, word die lesers se verkiesing in tyd, ’n werklikheid. Hierdie goddelike verkiesing het eerstens, die lesers se gehoorsaamheid ten doel; en tweedens, die lesers se besprinkeling met Jesus Christus se bloed.
Die drie voorsetselfrases in 1 Petrus 1:2 as verwysings na die Ou Testament
Om te probeer vasstel of Petrus met die drie voorsetselfrases in 1:2 van die Ou Testament gebruik maak, word elkeen van die frases afsonderlik ondersoek. Aangesien die derde voorsetselfrase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, duidelike ooreenkomste met Eksodus 24:3–8 vertoon, en aangesien sommige eksegete (vgl. byvoorbeeld Achtemeier 1996 :88; Feldmeier 2008 :58) aanvaar dat die skrywer met hierdie frase na Eksodus 24:3–8 verwys, word hierdie frase eerste ondersoek. Daarna word aandag geskenk aan die moontlikheid dat hy ook met die ander twee voorsetselfrases in 1:2, van die Ou Testament gebruik maak.
Omdat Petrus soos reeds genoem in die aanhef van die brief, temas of konsepte aandui wat hy in die res van die brief in besonderhede beskryf, is dit moontlik dat die res van die brief meer duidelikheid kan bied oor Petrus se bedoeling met elk van die drie voorsetselfrases in 1:2. Die drie frases word daarom eerstens kortliks binne die konteks van die brief nagegaan, waarna aandag gegee word aan die vraag of Petrus met die frases na spesifieke Ou-Testamentiese gedeeltes verwys.
Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, as verwysing na die Ou Testament
Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, binne die konteks van 1 Petrus
Die lesers se gehoorsaamheid [ὑπακοή] in 1:2 geniet in 1 Petrus heelwat aandag. In 1:14 verwys Petrus na die lesers as τέκνα ὑπακοῆς. Williams ( 2011 :58) toon oortuigend aan dat die uitdrukking, ὡς τέκνα ὑπακοῆς in 1:14, ‘presupposes a conversion experience that forms the basis for the ethical injunction that follows …’ en dat die woord ὑπακοή op ’n spesifieke gehoorsaamheid dui, naamlik om in geloof die verkondigde evangelie te aanvaar. Ook Achtemeier ( 1996 :120) is oortuig dat die woord ὑπακοή in 1:14, op geloof wys. Dit blyk uit 1:22 dat Petrus die woord, ὑπακοή, vir hierdie besondere betekenis gebruik. In 1:22 handel Petrus oor die reiniging van die lesers se siele en dat dit gebeur deur gehoorsaamheid aan die waarheid [ἐν τῇ ὑπακοῇ τῆς ἀληθείας]. Die skrywer wys daarmee op die lesers se aanvaarding van die waarheid soos dit in die evangelie aan hulle verkondig is (Michaels 1988 :75; vgl. ook Keener 2021 :61).
Die feit dat die lesers se geloof in 1:5 herhaaldelik aan die orde gestel word, bevestig dat Petrus met die woord ὑπακοή, reeds in 1:2 die lesers se gelowige reaksie op die evangelie na vore bring. In 1:5 is die lesers se volharding in geloof ter sprake. Petrus beklemtoon met die woorde τοὺς ἐν δυνάμει θεοῦ φρουρουμένους, dat die lesers deur God se krag bewaar word, maar maak ook met die voorsetselfrase, διὰ πίστεως, duidelik dat hierdie bewaring deur die lesers se geloof ’n realiteit word (vgl. Williams 2011 :162). Petrus beklemtoon ook in 1:6–9 die lesers se geloof. Hy handel in 1:6–7 oor die lesers se geloof te midde van beproewings en in 1:8 oor die eskatologiese beloning vir hulle geloof. Hy sê ook in 1:8 dat hulle glo al het hulle Jesus Christus nie gesien nie (Williams 2011 :163–164). In 1:21 noem Petrus ook dat die lesers glo. Hulle glo [πιστός] soos vermeld in 1:21, deur Christus [διʼ αὐτοῦ] in God.
Boring ( 2011 :206) wys daarop dat die skrywer van 1 Petrus regdeur die brief die verbondstaal van die Ou Testament gebruik (vgl. ook Deterding 1981 :60). Daar kan daarom saam met Carson ( 2007 :1017) aanvaar word dat die skrywer met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, die nuwe verbond tussen God en die lesers ter sprake bring. Petrus haal later in die brief (2:9) Eksodus 19:6 aan (Jobes 2005 :159–162). Die feit dat die gedeelte wat aangehaal word, oor die verbond tussen God en Israel handel (Boda 2009 :38–39), bevestig dat hy reeds in 1:2 met die frase εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, die nuwe verbond in gedagte het. In 2:9 ontvang ook die lesers, soos Israel (vgl. Eks 19:6 שׁוֹ֑דָק יוֹ֣גְו ,םיִ֖נֲהֹּכ תֶכֶ֥לְמַמ en LXX βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον) met die verbondsgebeure by Sinai, die titels βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον.
Die frase εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ as verwysing na Eksodus 24:3–8
In die Ou Testament is daar drie gedeeltes waarvolgens mense met bloed besprinkel is en waarna Petrus moontlik in 1:2 verwys, naamlik Levitikus 14:6–7, Exodus 29:21 en 24:3–8.
Daar is duidelike aanduidings dat Petrus met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, na Eksodus 24:3–8 verwys. In 1:2 word gehoorsaamheid [ὑπακοή] in die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, voorop gestel, en die besprinkeling met die bloed [ῥαντισμὸν αἵματος] word daarna vermeld. Hierdie volgorde kom opsigtelik ooreen met Eksodus 24:3–8. In Eksodus 24:3–8 word die gelowige reaksie van Israel voorop gestel. Toe Moses aan die volk al die woorde van die Here en al die verordeninge vertel, antwoord die volk gelowig dat hulle al die woorde wat die Here gespreek het, sal doen (vgl. 24:3 כֹּ֛ל אֲשֶׁר־דִּבֶּ֥ר יְהוָ֖ה נַעֲשֶׂ֥ה en LXX οὓς ἐλάλησεν κύριος, ποιήσομεν καὶ ἀκουσόμεθα). Nadat Moses ’n altaar gebou het, daarop brandoffers geoffer het, en daar bulle as dankoffers vir die Here geslag is, en Moses die helfte van die bloed teen die altaar gesprinkel het en hy die boek van die verbond vir die volk gelees het, antwoord die volk weer dat hulle alles wat die Here gespreek het, sal doen. Volgens Eksodus 24:7 voeg die volk ook by dat hulle sal luister (vgl. שָׁמַע). Aangesien 1 Petrus van baie aanhalings en verwysings uit die Septuagint gebruik maak (Jobes 2005 :55), is dit belangrik om daarop te let dat die volk volgens die Septuagint in sowel 24:3 as in 24:7 byvoeg, dat hulle onderneem om te luister (vgl. ἀκούω in Eks 24:3 en 7). Nadat die volk so in geloof geantwoord het, word hulle met die oorblywende helfte van die bloed besprinkel (vgl. 24:8) en word die verbond tussen God en Israel deur die besprinkeling met bloed bevestig (Fretheim 1991 :256–257).
Gevolgtrekking
Die ooreenkoms tussen 1:2 en Eksodus 24:3–8 is opmerklik. In beide Skrifgedeeltes staan gehoorsaamheid voorop en word dit gevolg deur die besprinkeling met bloed. Hierdie ooreenkoms tussen Eksodus 24:3–8 en 1:2 laat blyk dat die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2, nie maar ‘dowwe spore’ (vgl. Van Rooy 2016 :2) van ’n ander teks is nie. Die frase is nie ’n blote eggo nie. Petrus verwys bewustelik na Eksodus 24:3–8. Met die frase, εἰς ὑπακοὴν, verwys hy na Israel se gelowige reaksie op dit wat God aangaande die verbond bekendgemaak het (vgl. Eks 24:3, 7). Met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, wys hy bewustelik op die bevestiging van die verbond tussen God en Israel soos dit in Eksodus 24:3–8, en in die besonder in Eksodus 24:8, beskryf word. Saam met Williams ( 2011 :59–60) kan aanvaar word dat die skrywer met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, Christus se dood as ’n verbondsoffer voorhou. Soos die bloed van die offerdiere die eerste verbond bevestig het, bevestig die besprinkeling van Christus se bloed (as ’n metaforiese uitdrukking vir sy versoeningsoffer) die nuwe verbond tussen God en die lesers.
Die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, as ʼn verwysing na die Ou Testament
Die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, binne die konteks van 1 Petrus
Petrus sou met die woord πρόγνωσις in 1:2 slegs kon aandui dat God vooraf kennis gedra het wat in die toekoms gaan gebeur (vgl. Louw & Nida 1988 :337). Achtemeier ( 1996 :86) dui egter aan dat voorkennis nie alleen wys op God se vermoë om vooruit te weet wat gaan gebeur nie, maar ook op die feit dat dit wat gebeur volgens sy plan plaasvind (vgl. ook Schreiner 2003 :53–55; Williams 2011 :52–54). Petrus se gebruik van die werkwoord προγινώσκω in 1:20, bevestig Achtemeier se standpunt. In 1:20 sê Petrus dat Christus vooruit geken is (vgl. προγινώσκω). Christus is geken voor die grondlegging van die wêreld. Tereg sê Williams ( 2011 :53), dat die skrywer met die woord προγινώσκω aandui, dat Christus se koms volgens God se soewereine en ewige plan en volgens sy bedoeling plaasgevind het.
Die gebruik van die naamwoord πρόγνωσιν in Handelinge 2:23, laat blyk dat die woord πρόγνωσιν vir meer as net die betekenis voorafkennis gebruik kan word. Volgens Handelinge 2:23 is Jesus in ooreenstemming met die bepaalde raad (vgl. τῇ ὡρισμένῃ βουλῇ) en voorkennis (vgl. προγνώσει) van God oorgelewer. Oor die gebruik van die naamwoord πρόγνωσις in Handelinge 2:23, sê Peterson (2009):
God’s foreknowledge (prognosis) means more than his ability to anticipate the future. It is another way of talking about his determination of events in advance, according to his own plan (cf. Rm 8:29; 11:2; 1 Pt. 1:2, 20). (p. 146)
Daar kan derhalwe aanvaar word dat Petrus deur die gebruik van die woord πρόγνωσιν in 1:2, na God se bedoeling verwys, asook sy vermoë om sy bedoeling te verwerklik (Hillyer 1992 :67).
Daar moet daarop gelet word dat die plan waarna in 1:2 verwys word, God die Vader se plan is. Jobes ( 2005 :69) beklemtoon dat Petrus se verwysing in 1:2 na God as Vader, in die lig van 1:3 verstaan moet word. Soos daar ’n intieme en persoonlike verhouding tussen Jesus Christus en die Vader is, is daar ’n intieme en persoonlike verhouding tussen God en elkeen wat in Jesus Christus glo (vgl. ook 1:17–21). Die lesers se verkiesing verloop dus volgens die plan van die God met wie hulle ’n persoonlike en intieme verhouding het.
God se verlossingsplan kom in 1 Petrus as ’n konstante tema voor (Selwyn 1987 :65–66). Kraftchick ( 2014 :88) wys daarop dat die veelvuldige goddelike passiewe werkwoorde in 1 Petrus gebruik word om God aan te dui as die aktiewe krag agter gebeurtenisse in die geskiedenis. Die lofprysingseenheid (1:3–12) kan as ’n voorbeeld dien van God se verlossingsplan wat in die brief vermeld word. As deel van die rede waarom God geprys moet word, gee Petrus in 1:3–5 die besonderhede van God se verlossingsplan. Hy wys eerstens op die eenmalige gebeure van Jesus Christus se opstanding uit die dood, waardeur God ’n nuwe begin moontlik gemaak het (Feldmeier 2008 :63). Petrus gee ook verdere besonderhede van hierdie plan. Hy noem die rede waarom God die verlossing bewerk het, naamlik God se groot barmhartigheid (vgl. τὸ πολὺ αὐτοῦ ἔλεος in 1:3). Die doel of gevolg van die verlossing word ook beskryf, naamlik dat die lesers ’n lewende hoop (vgl. ἐλπίδα ζῶσαν in 1:3) sal hê – ’n hoop wat in besonderhede as erfenis (vgl. κληρονομία in 1:4) beskryf word. Derdens dui Petrus God se krag (vgl. ἐν δυνάμει θεοῦ in 1:5) aan as sekerheid dat die plan volvoer sal word (vgl. Feldmeier 2008 :63–78).
Die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing na Eksodus 19:3–8
In die Ou Testament word dikwels na God se verlossingsplan verwys, byvoorbeeld Jesaja 46:9–10, Jeremia 29:11–14 en Psalm 33:10–11. Die vraag is egter of daar enige aanduiding is dat Petrus, wanneer hy in 1:2 oor God se verlossingsplan handel, ’n spesifieke Ou-Testamentiese gedeelte in gedagte het. Om hierdie vraag te beantwoord, is dit nodig om op die volgende sake te let:
- Petrus maak elders in die brief van Eksodus 19:3–8 gebruik. Hy haal in 2:9 soos reeds genoem, met die twee frases, βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον, Eksodus 19:6 aan. 6
- God se verlossingsplan is soos in 1:2, in Eksodus 19:3–8 aan die orde. God het reeds volgens Eksodus 3:6–10 en 6:2–8 aan Moses bekend gemaak dat Hy Israel uit Egipte sal verlos, en hulle na die berg Sinai sal bring (Fretheim 1991 :57, 91–96). By die berg Sinai gee Moses volgens Eksodus 19:3–4, in opdrag van God, aan die volk ’n opsomming van die eksodus- en woestyngebeure, en beklemtoon God se inisiatief en optrede tot voordeel van sy volk (Davies 2004 :38). Uit Eksodus 19:5–8 is dit duidelik dat daar nie in hierdie gedeelte net na die verlede verwys word nie, maar ook na komende gebeure soos die gee van die wet (Eks 20–23) en die bevestiging van die verbond (Wells 2000 :34; vgl. ook Alexander 2017 :365–366).
- Hoewel God se verkiesing van Israel nie uitdruklik in Eksodus 19:3–8 vermeld word nie, is dit duidelik dat die verkiesing van Israel wel in die verse aan die orde is. Davies ( 2004 :44) toon aan dat die beskrywing van Israel as God se eiendom onder al die volke (vgl. סְגֻלָּה֙ מִכָּל־הָ֣עַמִּ֔ים כִּי־לִ֖י כָּל־הָאָֽרֶץ en LXX ἔσεσθέ μοι λαὸς περιούσιος ἀπὸ πάντων τῶν ἐθνῶν), God se verkiesing van Israel na vore bring (vgl. Ps 135:4). Wells ( 2000 :27, 44) beklemtoon dat die verwysing na Israel as heilige volk in Eksodus 19:5 (וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ en LXX ἔθνος ἅγιον), binne die konteks van God se verkiesing van Israel verstaan moet word. Soos God die Vader se plan in 1:2 dus uitdruklik met die goddelike verkiesing verbind is, is die goddelike verkiesing van Israel ook in Eksodus 19:3–8 aan die orde, waar oor God se plan vir Israel gehandel word.
- Wanneer die argument van 1 Petrus se aanhef met Eksodus 19:3–8 vergelyk word, is daar ’n opsigtelike ooreenkoms. God se verlossingsplan, gehoorsaamheid en die bevestiging van die verbond, word in die aanhef van 1 Petrus saam vermeld. Die verkiesing van die lesers, wat volgens God se plan (vgl. πρόγνωσις) geskied, het gehoorsaamheid (vgl. ὑπακοή) en die bevestiging van die verbond [καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ]ten doel. Waar God se verlossingsplan vir Israel in Eksodus 19:3–8 vermeld word, is hierdie sake ook aan die orde. Die bevestiging van die verbond word in die verse geantisipeer. Wanneer gelet word op die Septuagint, 7 word die gehoorsaamheid van Israel ook in Eksodus 19:3–8 vermeld. Volgens die Septuagint onderneem Israel nie alleen om te doen wat God sê nie (vgl. ὅσα εἶπεν ὁ θεός, ποιήσομεν), maar beklemtoon hulle ook hulle gehoorsaamheid (vgl. καὶ ἀκουσόμεθα).
- Die persoonlike en intieme verhouding tussen God en die mense word in die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς in 1:2, sowel as in Eksodus 19:3–8 op die voorgrond gestel. Daar is reeds daarop gewys dat deur in 1:2 na God as Vader te verwys, Petrus die persoonlike en intieme verhouding tussen God en die lesers beklemtoon. Die persoonlike en intieme verhouding tussen God en Israel, word in Eksodus 19:3–8 beklemtoon wanneer God sê dat Hy Israel na Hom toe gebring het (vgl. v. 4 וָאָבִ֥א אֶתְכֶ֖ם אֵלָֽי en LXX προσηγαγόμην ὑμᾶς πρὸς ἐμαυτόν). Davies ( 2004 :40) wys op die volgende: ‘“[B]ringing to myself” expresses the underlying motivation of the preceding divine actions and focuses on relationship rather than location.’ Ook in die verwysing na my stem (vgl. בְּקֹלִ֔י en LXX ἐμῆς φωνῆς) en my verbond (vgl. בְּרִיתִ֑י en LXX διαθήκην μου) in 19:5–6 word God se persoonlike verhouding met Israel beklemtoon (vgl. Alexander 2017 :366 en Fretheim 1996 :233).
- Eksodus 19:3–8 pas baie goed in by wat in 1 Petrus aangaande God se verlossingsplan beredeneer word. 8 Die volgende kan as voorbeelde dien:
- ■ Een saakmakende optrede van God in die verlede: Waar God se verlossingsplan in Eksodus 19:4 aan die orde is, word die een saakmakende optrede van God in die verlede beklemtoon, naamlik God se verlossing van Israel uit die slawerny in Egipte (vgl. ook Eks 20:2). In 1:3 sê Petrus dat God die lesers (en homself) deur die opstanding van Jesus Christus nuut verwek het (vgl. ἀναγεννάω). 9 Hy dui daarmee God se een saakmakende optrede in die verlede aan.
- ■ God se genade in die uitvoering van sy verlossingsplan: Met die woorde in Eksodus 19:5, ‘wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het’ (vgl. אֲשֶׁ֥רעָשִׂ֖יתִי לְמִצְרָ֑יִם en LXX πεποίηκα τοῖς Αἰγυπτίοις) en ‘julle op arendsvlerke gedra het’ (וָאֶשָּׂ֤א אֶתְכֶם֙ עַל־כַּנְפֵ֣י נְשָׁרִ֔ים en LXX ἀνέλαβον ὑμᾶς ὡσεὶ ἐπὶ πτερύγων ἀετῶν), word Israel daaraan herinner dat die uittog uit Egipte die groot inisiatief van God se genade was (Wright 2021 :338). In 1:3 sê Petrus dat God in sy groot ontferming (vgl. πολὺ αὐτοῦ ἔλεος) Petrus en die lesers verwek het.
- ■ Die doel en gevolge van God se verlossingsplan: In Eksodus 19 asook in 1 Petrus word die gevolge van God se verlossingsplan uitgespel. Volgens Eksodus 19:5–6 sal Israel vir God ’n persoonlike eiendom (vgl. סְגֻלָּה en LXX περιούσιος) wees en ook ’n koninkryk van priesters (vgl. מַמְלֶ֥כֶת כֹּהֲנִ֖ים en LXX βασίλειον ἱεράτευμα) en ’n heilige nasie (vgl. גּוֹי קָדֹ֑ושׁ LXX ἔθνος ἅγιον) (Alexander 2017 :367). Petrus beklemtoon dat die lesers volgens God se plan ’n lewende hoop (ἐλπίδα ζῶσαν in 1:3) sal hê – ’n hoop wat hy as erfenis (vgl. κληρονομία in 1:4) beskryf.
Dit blyk dat daar geen woordelikse ooreenkomste is tussen die voorsetselfrase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, en Eksodus 19:3–8 nie. Indien slegs in ag geneem word dat God se plan in sowel die frase as in Eksodus 19:3–8 aan die orde is, sou bevind kan word dat die frase ’n eggo van die Ou-Testamentiese Skrifgedeelte is. Wanneer die frase egter binne die konteks van 1 Petrus geplaas word, is daar genoeg getuienis om te aanvaar dat Petrus bewustelik met die frase na Eksodus 19:3–8 verwys. Petrus haal in die brief aan uit die gedeelte waarin die goddelike plan vermeld word; in beide Skrifgedeeltes is die goddelike plan verbind met die goddelike verkiesing; daar is opsigtelike ooreenkomste tussen die argument van 1 Petrus se aanhef en Eksodus 19:3–8. God se persoonlike en intieme verhouding met sy uitverkorenes staan in beide Skrifgedeeltes op die voorgrond. Die gevolgtrekking dat Petrus met die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, na Eksodus 19:3–8, verwys, word verder bevestig deur die feit dat hierdie Ou-Testamentiese Skrifgedeelte inpas by dit wat Petrus in die brief aangaande God se verlossingsplan beredeneer.
Die frase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος as verwysing na die Ou Testament
Die frase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος in die konteks van 1 Petrus
1 Petrus bring deur die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, die heiligheid van die lesers en die werk van die Heilige Gees ter sprake. Die heiligheid van die lesers en die werk van die Heilige Gees, asook die heiligheid van God is telkemale in 1 Petrus aan die orde. In 1:15 word God se heiligheid byvoorbeeld vermeld en op ’n besondere manier ook die heiligheid van die lesers. Die skrywer gebruik in 1:15 die akkusatief van ἅγιος as ’n beskrywing van God (Richard 2000 :61). Wanneer Petrus dan sê dat die lesers deur die Heilige Een geroep is (vgl. die aoristus deelwoord καλέσαντα), en hulle daarna tot ’n heilige lewenswandel oproep (vgl. ἅγιοι … ἀναστροφῇ), dui hy aan waarom die heiligheid van Israel se God ’n model moet wees waarvolgens Christus se volgelinge hulle lewens moet inrig. Hulle identiteit rus op die feit dat hulle deur ’n heilige God geroep is (Michaels 1988 :59).
Nadat Petrus in 1:15–16 God as die Heilige Een aangedui het en die lesers opgeroep het tot ’n heilige lewenswandel, bring hy God se heiligheid ter sprake deur na God as regter te verwys (Richard 2000 :62). Die heilige God is ’n regter wat nie volgens die uiterlike oordeel nie (vgl. ook 2:23). Hy oordeel volgens elkeen se werk. Wanneer Petrus dan in 1:17 eis dat die lesers in die tyd van hulle vreemdelingskap in vrees (vgl. φόβος) sal wandel, moet dit nie verstaan word as ’n oproep om die heilige God as ’n bedreiging te sien en in angs voor Hom te lewe nie. Petrus herinner die lesers in 1:17 dat hulle God as Vader (πατήρ) aanroep. Hulle, wat deur die Vader van Jesus Christus nuut verwek is (1:3), het ’n besondere verhouding met die heilige God. Hy is hulle Vader. Dit is juis vanweë hierdie Vader-kindverhouding dat hulle lewenswandel van vrees sal getuig (Michaels 1988 :60). Hierdie vrees is dieselfde vrees [יָרֵא] waartoe Ou-Testamentiese gelowiges byvoorbeeld in Spreuke 1:29, 3:7, 9:10, en Prediker 12:13 opgeroep is. Die woord φόβος wys daarom op die betekenis van diepe respek. Petrus roep die lesers wat God as Vader aanroep op om die hoogste waarde aan hulle verhouding met God te heg, sodat hierdie verhouding alles in hulle lewe bepaal (vgl. Green 2007 :45).
’n Voorbeeld van die werk van die Heilige Gees en die heiligheid van die lesers word in 2:4 gevind. In hierdie vers word die lesers as ’n geestelike huis [οἶκος πνευματικὸς] beskryf. Achtemeier ( 1996 :156) oortuig as hy sê dat die skrywer in 2:5 die Christene in terme van ’n nuwe tempel beskryf waarin God se Gees nou teenwoordig is (vgl. ook Green 2007 :61; Wells 2000 :217). Nadat Petrus in 2:4 aangedui het dat hierdie nuwe tempel ook ’n heilige priesterdom is, beklemtoon hy die werking van die Gees wanneer hy duidelik maak dat die doel van die heilige priesterdom is om geestelike offers [ἀνενέγκαι πνευματικὰς] te bring. Die offers wat gebring word, word as geestelik [πνευματικός] beskryf omdat dit deur die Gees geïnisieer en aangespoor word (Deterding 1981 :62; Williams 2011 :76–77).
Dit val ook op dat die skrywer die lesers in 2:9 deur ’n aanhaling van Eksodus 19:6 (LXX) (Jobes 2005 :159) beskryf as ’n heilige nasie (ἔθνος ἅγιον). Deur die gebruik van die woord ἔθνος, maak hy duidelik dat die lesers wat sowel Jode as nie-Jode was (vgl. Achtemeier 1996 :51), ‘are constituted one people, one “nation”, under the terms of a new covenant’ (Carson 2007 :1031). Hierdie nasie verskil egter van alle ander nasies, want hulle is ’n heilige (vgl. ἅγιος) nasie.
Die frase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος as verwysing na Eksodus 19–23
Die feit dat Petrus van twee van die voorsetselfrases in 1:2 van Eksodus 19 en 24 gebruik maak, en die feit dat Eksodus 19–24, soos reeds genoem, ’n hegte eenheid vorm, laat die vraag ontstaan of hy nie met die voorsetselfrase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, ook Eksodus 19–24 in die oog het nie. Om hierdie vraag te beantwoord, moet op die volgende sake gelet word:
- Daar is reeds in hierdie artikel op die standpunt van Feldmeier ( 2008 :58) gewys, naamlik dat die skrywer van 1 Petrus met die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, duidelik maak dat die Heilige Gees mense wat volgens die goddelike plan gekies is, met God verbind en dat hulle, as God se eiendom, self heilig is. In Eksodus 19–23 staan Israel se heiligheid in hulle verhouding met die heilige God ook op die voorgrond (vgl. Wells 2000 :30–55). Volgens 19:6 word aan Israel verkondig dat hulle vir God ’n heilige (vgl. קָדוֹשׁ en LXX ἅγιος) nasie sal wees. Wells (2000) sê:
If the words here were not placed on the lips of Yhwh himself, they might sound blasphemous. For this is a statement suggesting that people can, in some way, become like God’. (p. 31)
Israel se heiligheid is ook meer kere in Eksodus 19–23 ter sprake (vgl. 19:10, 22 en 22:31).
- Eksodus 19–24 vorm ’n hegte enheid. Daar is reeds aangetoon dat Petrus met die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, in Eksodus 19:3–8 na hierdie hegte eenheid verwys. Daar is ook aangetoon dat hy met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in Eksodus 24:3–9 na hierdie eenheid verwys. Dit is belangrik om daarop te let dat God se heiligheid en Israel se heiligheid in die gedeelte tussen die twee gedeeltes waarna die genoemde frases verwys, aan die orde gestel word. 10
- In 2:9 bring Petrus die lesers se heiligheid (vgl. Schreiner 2003 :115), wat hy met die frase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος in 1:2 vermeld het, weer na vore. Hy doen dit deur Eksodus 19:6 aan te haal. 11
- Dit wat in Eksodus 19–23 oor God se heiligheid en ook Israel se heiligheid na vore kom, pas baie goed in by God se heiligheid en die heiligheid van die lesers soos dit in 1 Petrus beredeneer word. Die volgende kan as voorbeelde dien:
- ■ Die heiligheid van Israel en van die lesers, in teenstelling met ander mense: In Eksodus 19 word die verskil tussen die Israeliete en ander nasies ten opsigte van heiligheid, na vore gebring deur die gebruik van die frase, וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ (Eks 19:6). Normaalweg word die woord עַם in die Ou Testament gebruik wanneer na Israel verwys word (Cody 1964 :1–6; Davies 2004 :100). Die woord גּוֹי, verwys na ’n groep mense van ’n spesifieke geografiese gebied en wat ’n politieke eenheid vorm (vgl. Clements & Botterweck 1975 :427–430; Alexander 2017 :368–369). Soos al die ander nasies, sal Israel, volgens Eksodus 19:6, ook ’n nasie wees. Israel sal egter anders wees as ander nasies. Israel sal ’n heilige nasie wees.
Petrus bring ook die andersheid van die lesers ten opsigte van heiligheid na vore, wanneer hy in 2:9 deur ’n aanhaling van Eksodus 19:6 (LXX) die lesers as ’n heilige nasie [ἔθνος ἅγιον] beskryf. Deur die gebruik van die woord ἔθνος, maak hy duidelik dat die lesers, as deel van die nuwe verbond, ’n nasie is (vgl. Carson 2007 :1031), maar dan soos Israel, ’n heilige (vgl. ἅγιος) nasie.
- ■ Israel en die lesers se roeping om heilig te lewe: Uit Eksodus 19–24 is dit duidelik dat Israel nie alleen in hulle status as ’n heilige nasie van ander nasies onderskei word nie. Israel sal ook verskil deur wat hulle word (Durham 1987 :263; vgl. ook Wells 2000 :56).
Die feit dat Israel binne die verbondsgebeure wette ontvang, dui op die belangrikheid van Israel se heiligmaking. Die wette beskryf die heilige gedrag waartoe Israel deur die heilige God geroep word (Sprinkle 2004 :236; vgl. ook Wells 2000 :73–74). Hierdie wette wat aan Israel gegee is, moenie as onpersoonlike opdragte verstaan word nie. Fretheim ( 1991 :203) wys daarop dat die wette in Eksodus 19–24 omsluit word deur narratiewe gedeeltes. Hy sê dat ’n mens in die narratiewe gedeeltes gekonfronteer word deur die Gewer van die wette. Hierdie Gewer is lewend en persoonlik betrokke by die volk.
Dit wat in 1 Petrus aangaande die lesers se roeping om heilig te lewe, beskryf word, sluit baie nou aan by Israel se roeping om, volgens Eksodus 19–23, heilig te lewe. ’n Duidelike voorbeeld hiervan word gevind in 1:15 waar God as die Heilige beskryf word. Uit 1:15 is dit duidelik dat die Heilige wat die lesers geroep het, die gelowiges in ’n verhouding met homself gestel het en hulle gevolglik heilig gemaak het (Feldmeier 2008 :107). Hoewel Petrus nie soos in Eksodus 19–23, wette aandui wat ’n heilige lewe definieer nie, word die heilige lewe waarna in 1:15 verwys word, elders in 1 Petrus verbind met woorde soos καλή (2:11) en αγαθή (3:16) en word die oproep tot ’n heilige lewe uitgebrei na ’n aansporing om onder alle omstandighede goed te doen, en om in Christus se voetspore te volg (vgl. 2:21–25) (Green 1990 :288).
- ■ ’n Heilige lewe uit diepe respek vir die heilige God: Hoewel Israel in ’n intieme en persoonlike verhouding met God moes leef, word die afstand tussen God en Israel ook in Eksodus 19–23 beklemtoon. Volgens Eksodus 19–20 waarin God se heiligheid op die voorgrond kom, het die volk bang geword, gebewe en op ’n afstand bly staan (Eks 20:18). Hulle het gedink hulle gaan sterwe (Eks 20:19). Moses sê egter vir die volk dat hulle nie moet vrees nie (vgl. יָרֵא, Eks 19:20). Dit lyk asof hy hom weerspreek wanneer hy direk daarna vir die volk sê dat die vrees (vgl. יָרֵא) van God voor hulle aangesig sal wees. Daar kan afgelei word dat Moses duidelik maak dat die volk nie, omdat hulle God as ’n bedreiging beskou, hulle lewe volgens God se wil moet inrig nie. Hulle moes uit diepe respek vir die heilige God, heilig leef (vgl. Fretheim 1991 :216 en Peeler 2013 :192–193).
- ■ Die heiligheid van Israel en van die lesers, in teenstelling met ander mense: In Eksodus 19 word die verskil tussen die Israeliete en ander nasies ten opsigte van heiligheid, na vore gebring deur die gebruik van die frase, וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ (Eks 19:6). Normaalweg word die woord עַם in die Ou Testament gebruik wanneer na Israel verwys word (Cody 1964 :1–6; Davies 2004 :100). Die woord גּוֹי, verwys na ’n groep mense van ’n spesifieke geografiese gebied en wat ’n politieke eenheid vorm (vgl. Clements & Botterweck 1975 :427–430; Alexander 2017 :368–369). Soos al die ander nasies, sal Israel, volgens Eksodus 19:6, ook ’n nasie wees. Israel sal egter anders wees as ander nasies. Israel sal ’n heilige nasie wees.
Gevolgtrekking
Daar kan nie op grond van woordelikse ooreenkomste tussen die voorsetselfrase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος in 1:2 en Eksodus 19–23, tot die gevolgtrekking gekom word dat Petrus met hierdie frase na die Ou-Testamentiese Skrifgedeelte verwys nie. Omdat God se heiligheid en mense se heiligheid in albei Skrifgedeeltes ter sprake is, sou geredeneer kon word dat daar in die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, ’n vae oorblyfsel, ’n eggo van Eksodus 19–23 te vind is.
As die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, binne die argument van 1 Petrus verstaan word, blyk dit egter dat Petrus met die betrokke frase aan die begin van die brief bewustelik na Eksodus 19–23 verwys. Die feit dat Petrus met twee van die voorsetselfrases in 1:2 na die een groot verbondsgebeure van Eksodus 19–24 verwys, verleen gewig aan hierdie argument. Omdat die ander twee frases na die goddelike plan in 19:3–8 en die verbondsbevestiging in 24:3–8 verwys, en die klem in die oorblywende gedeelte, naamlik Eksodus 19–23, op God en Israel se heiligheid val, kan afgelei word dat Petrus met die frase waarin hy oor die Heilige Gees en die lesers se heiligheid handel, na Eksodus 19–23 verwys. Die feit dat Petrus in die brief Eksodus 19:6 aanhaal en dat hierdie aanhaling oor Israel se heiligheid handel, bevestig verder die afleiding dat hy met die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, na Eksodus 19–23 verwys. ’n Verdere bevestiging van hierdie gevolgtrekking word gevind in die feit dat God se heiligheid en Israel se heiligheid soos dit in Eksodus 19–23 aan die orde is, inpas by dit wat in 1 Petrus oor God en die lesers se heiligheid beredeneer word.
Die lesers se herkenning van die drie voorsetselfrases as verwysings na die Ou Testament
’n Belangrike vraag in verband met Petrus se gebruik van die Ou Testament in 1:2 is of die eerste lesers, onder wie daar ook nie-Joodse Christene was, die verwysing na die Ou Testament sou herken. Achtemeier (1996) wys daarop dat:
[T]he familiarity with the OT presumed in the readers is as likely to be the result of instruction both before and after their conversion as it is of their racial origin. The OT was, after all, the Bible of those early information about the readers as these verses may contain. (p. 51)
Die feit dat daar in 1 Petrus dikwels van Eksodus gebruik gemaak word (Deterding 1981 :58–64) asook die feit dat Eksodus 19–24 beskryf kan word as die ‘center of the Book of Exodus’ (Brueggemann 2014 :566, vgl. ook Wells 2000 :33–34) laat blyk dat Petrus aanvaar het dat die lesers die verwysings na Eksodus 19–24 in 1:2 sou herken.
Slotsom
Petrus maak bewustelik met die drie voorsetselfrases, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος en εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, van die verbondsgebeure gebruik soos dit in Eksodus 19–24 beskryf word. Met die voorsetselfrase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, verwys hy na God se verlossingsplan soos dit in Eksodus 24:3–8 aan die orde is. Hy het met die voorsetselfrase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, Eksodus 19–24 in gedagte, en wys op God asook Israel se heiligheid soos dit in hierdie hoofstukke opgeteken is. Met die voorsetselfrase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, verwys Petrus na Eksodus 24:3–8. Hy verwys met die frase, εἰς ὑπακοὴν, na Israel se gehoorsaamheid wat in Eksodus 24:3 en 7 in die Septuaginta vermeld word, en met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, na die bevestiging van die verbond soos dit in Eksodus 24:8 beskryf word. Petrus aanvaar dat die lesers die drie voorsetselfrases as verwysings na Eksodus 19–24 sou herken.
Erkennings
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.
Outeursbydrae
D.G.B. is die alleen-outeur van hierdie navorsingsartikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Footnotes
1. Om te bepaal of Petrus in 1:2 van die Ou Testament gebruik maak, word aangesluit by Beale (2012:29–32) se beskrywing van ’n aanhaling van, en ’n verwysing na die Ou Testament. Hy sê ’naanhalingis ‘a direct quotation of an OT passage that is easily recognizable by its clear and unique verbal parallelism’. ’nVerwysingna die Ou Testament is volgens hom ‘a brief expression consciously intended by an author to be dependent on an OT passage’ en ‘… the telltale key to discerning an allusion is that of recognizing an incomparable or unique parallel in wording, syntax, concept, or cluster of motifs in the same order or structure’. Wanneer in hierdie artikel naeggo’sverwys word, word aangesluit by Beetham (2008:24). Hy meen ’n eggo is ‘[a]subtle, literary mode of reference that is not intended for public recognition yet derives from a specific predecessor. An author’s wording may echo the precursor consciously or unconsciously and/or contextually or non-contextually.’
2. Alle verwysing na 1 Petrus word verder in die artikel slegs met die hoofstuknommer en die versnommer aangedui.
3. Dit blyk dat daar nie in die Ou Testament enige gedeelte is wat ’n duidelike en unieke woordelikse parallel met die drie voorsetselfrases in 1:2 vertoon nie. In hierdie artikel word daarom verder net aandag gegee aan die vraag of Petrus met die frases in 1:2 na die Ou Testamentverwysof Ou-Testamentiese gedeelteseggo.
4. Sowel Green (2020:77–96) as Schreiner (2003:21–36) toon oortuigend aan dat met sekerheid aanvaar kan word dat die apostel Petrus die outeur van 1 Petrus is (vgl. ook Jobes2005:5–19).
5. Vir meer besonderhede oor die betekenis waarvoor Petrus die woorde ἐκλεκτός, παρεπίδημος en διασπορά in 1:1 gebruik, vergelyk Breed (2022b:3–4).
6. Hays (1989:29–32) en Beale (2012:31–34) wys daarop dat dit soms onseker is of ’n Nuwe-Testamentiese skrywer na ’n spesifieke Ou-Testamentiese Skrifgedeelte verwys. Hulle toon aan dat, indien dit duidelik is dat die skrywer elders in dieselfde geskrif na die spesifieke Skrifgedeelte verwys of dit aanhaal, dit die moontlikheid versterk dat hy in die gedeelte waaroor onsekerheid bestaan, ook na die betrokke Ou-Testamentiese Skrifgedeelte verwys.
7. Daar is reeds daarop gewys dat daar in 1 Petrus dikwels deur aanhalings en verwysings van die Septuagint gebruik gemaak word.
8. Beale (2012:33) wys daarop dat, wanneer die bedoeling van ’n Ou-Testamentiese Skrifgedeelte waarna ’n Nuwe-Testamentiese skrywer moontlik verwys, ‘fits into the NT writers argument’, dit die moontlikheid versterk dat die Nuwe-Testamentiese skrywer wel na die Ou-Testamentiese Skrifgedeelte verwys (vgl. ook Hays1989:30).
9. Van Rensburg (2009:111–113) toon oortuigend aan dat die woord, ἀναγεννάω in 1:3, vir die betekenis,nuut verwek,gebruik word.
10. Dit is nie ongewoon dat ’n Nuwe-Testamentiese skrywer met enkele verse na ’n groot gedeelte in die Ou Testament verwys nie (vgl. Op 3:3–4 as verwysing na Dan 11–12 en Beale & McDonough2007:1096).
11. Vergelyk voetnoot 6.
Achtemeier, P. J., 1996, 1 Peter. A commentary on First Peter, Hermeneia – A critical and historical commentary on the Bible, Augsburg Fortress, Minneapolis, MN.
Agnew, F. H., 1983, ‘1 Peter 1:2 – An alternative translation’, Catholic Biblical Quarterly 45(1), 68–73.
Alexander, T. D., 2017, Exodus, Apollos Old Testament Commentary, Apollos, London.
Beale, G. K., 2012, Handbook on the New Testament use of the Old Testament: Exegesis and interpretation, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Beale, G. K. & McDonough, S. M., 2007, ‘Revelation’, inG. K. Beale& D. A. Carson(eds. ), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 1015–1046, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Beetham, C. A., 2008, Echoes of Scripture in the letter of Paul to the Colossians, Brill, Leiden.
Boda, M. J., 2009, A severe mercy: Sin and its remedy in the Old Testament, Pennsylvania State University Press, Philadelphia, PA.
Boring, M. E., 2011, 1 Peter, Abingdon New Testament Commentaries, Abington, Nashville, TN.
Breed, D. G., 2022a, ‘Lydende Nuwe-Testamentiese gelowiges bedien deur die Ou-Testamentiese profete: Eksegese van 1 Petrus 1:10–12’, In die Skriflig/In Luce Verbi 56(1), 1–10. https://doi. org/10. 4102/ids. v56i1. 2809
Breed, D. G., 2022b, ‘Lyding – ’n dringende aansporing: 1 Petrus 4:12–19 eksegeties nuut ondersoek’, In die Skriflig/In Luce Verbi 58(1), 1–10. https://doi. org/10. 4102/ids. v58i1. 3009
Breed, D. G., Van Rensburg, F. J. & Jordaan, G. J. C., 2008, ‘Manlik en vroulik in die kerk: Geslagtigheid en die besondere dienste, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Brueggemann, W., 2014, ‘The God who gives rest’, inT. Dozeman, C. A. Evans& J. N. Lohr(eds. ), The Book of Exodus: Composition, reception, and interpretation, pp. 565–590, Koninklijke Brill, Leiden.
Carson, D. A., 2007, ‘1 Peter’, inG. K. Beale& D. A. Carson(eds. ), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 1015–1046, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Childs, B. S., 2004, The Book of Exodus, a critical, Theological Commentary, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.
Chirichigno, G. C., 1987, ‘The narrative structure of Exod 19–24’, Biblica 68(4), 457–479.
Clements, R. E. & Botterweck, G. J., 1975, ‘גּוֹי góy’, inG. J. Botterweck& H. Ringgren(eds. ), Theological dictionary of the Old Testament, vol. 2, pp. 426–433, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Cody, A., 1964, ‘When Ii the chosen people called a Gôy?’, Vetus Testamentum 14(1), 1–6. https://doi. org/10. 1163/156853364X00018
Coetzee, J. C., 1988, ‘Gedagtestruktuurontleding en die eksegese van die Heilige Skrifte’, inJ. C. Coetzee(red. ), Koninkryk, Gees en Woord, pp. 19–37, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity, Downers Grove, IL.
Davies, J. A., 2004, A royal priesthood: Literary and intertextual perspectives on an image of Israel in Exodus, Clark International, New York, NY.
Deterding, P. E., 1981, ‘Exodus Motifs in First Peter’, Concordia Journal 7(2), 58–65.
Docherty, S., 2020, ‘Crossing testamentary borders: Methodological insights for OT/NT study from contemporary Hebrew Bible scholarship’, inD. Allen& S. Smith(eds. ), Methodology in the use of the Old Testament in the new: Context and criteria, pp. 11–22, Clark, London.
Durham, J. I., 1987, Exodus, Word Biblical Commentary, Word Books Publisher, Dallas, TX.
Elliott, J. H., 2000, 1 Peter: A new translation with introduction and commentary, Doubleday, New York, NY.
Fee, D. G., 2009, New Testament exegesis: A handbook for students and pastors, Westminster John Knox, Louisville, TN.
Feldmeier, R., 2008, The first letter of Peter. A commentary on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.
Fretheim, T. E., 1991, Exodus, Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching, John Knox, Louisville, TN.
Fretheim, T. E., 1996, ‘“Because the whole earth is mine”: Theme and narrative in Exodus’, Interpretation 50(3), 229–239. https://doi. org/10. 1177/002096439605000302
Green, G. L., 1990, ‘The use of the Old Testament for Christian ethics in 1 Peter’, Tyndale Bulletin 41(2), 276–289. https://doi. org/10. 53751/001c. 31657
Green, G. L., 2020, Vox Petri: A theology of Peter, Cascade Books, Eugene, OR.
Green, J. B., 2007, 1 Peter, The Two Horizons New Testament Commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Grudem, W. A., 2009, The first Epistle of Peter: An introduction and commentary, The Tyndale New Testament Commentaries, InterVarsity, Downers Grove, IL.
Hays, R. B., 1989, Echoes of Scripture in the Letters of Paul, Yale University, London.
Hillyer, N., 1992, 1 & 2 Peter, Jude, Understanding the Bible Commentary Series, Baker Books, Grand Rapids, MI.
Jobes, K. H., 2005, 1 Peter, Baker Exegetical Commentary on the New Testament, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Jordaan, G. J. C., Van Rensburg, F. J. & Breed, D. G., 2011, ‘Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese’, In die Skriflig/In Luce Verbi 45(2/3), 225–258. https://doi. org/10. 4102/ids. v45i2/3. 14
Keener, C. S., 2021, 1 Peter: A commentary, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Kraftchick, S. J., 2014, ‘Reborn to a living hope: A Christology of 1 Peter’, inE. F. Mason& T. W. Martin(eds. ), Reading 1–2 Peter and Jude. A resource for students, pp. 83–89, Society of Biblical Literature, Atlanta, GA.
Lindars, B., 1977, ‘The place of the Old Testament in the formation of New Testament theology: Prolegomena’, New Testament Studies 23(1), 59–66. https://doi. org/10. 1017/S0028688500008389
Louw, J. P. & Nida, E. A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, vol. 1, United Bible Societies, New York, NY.
Michaels, J. R., 1988, 1 Peter, Word Biblical Commentary, Word Books Publisher, Dallas, TX.
Peeler, A. L. B., 2013, ‘Desiring God: The blood of the covenant in Exodus 24’, Bulletin for Biblical Research 23(2), 187–205. https://doi. org/10. 2307/26424678
Peterson, D., 2009, The Acts of the Apostles, The Pillar New Testament Commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Phillips, G. Y., 2013, ‘The use of the Psalms in 1 Peter: An Exegetical and hermeneutical study’, PhD Thesis, Potchefstroom Campus of the North-West University.
Porter, S. E., 2006, ‘Allusions and Echoes’, inS. E. Porter& C. D. Stanley(eds. ), As it is written: Studying Paul’s use of scripture, pp. 29–40, Society of Biblical Literature, Atlanta, GA.
Richard, E., 2000, Reading 1 Peter, Jude, and 2 Peter: A literary and theological commentary, Smyth & Helwys Publishing, Macon, GA.
Schreiner, T. R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, The New American Commentary, B& H Publishing Group, Nashville, TN.
Selwyn, E. G., 1987, The First Epistle of St. Peter. The Greek text with introduction, notes, and essays, Thornapple Commentaries, Macmillan, London.
Snodgrass, K., 1991, ‘The use of the Old Testament in the New’, inD. A. Black& D. S. Dockery(eds. ), New Testament criticism and interpretation, pp. 420–422, Zondervan Publishing House, Grand Rapids, MI.
Snodgrass, K. R., 1978, ‘I Peter 2:1–10: Its formation and literary affinities’, New Testament Studies 24(1), 97–106. https://doi. org/10. 1017/S0028688500003787
Sprinkle, J. M., 2004, ‘Law and narrative in Exodus 19–24’, Journal of the Evangelical Theological Society 47(2), 235–252.
Sprinkle, J. M., 2009, The ‘Book of the Covenant’: A literary approach, Bloomsbury, London.
Stowers, K. S., 1986, Letter writing in Greco-Roman antiquity, The Westminster Press, Philadelphia, PA.
Tite, P. L., 1996, ‘The compositional function of the petrine prescript: A look at 1 Pet 1:1–3’, Journal of the Evangelical Theological Society 39(1), 47–56.
Tolar, W. B., 2002, ‘The grammatical-historical method’, inB. Corley, S. Lemke& G. I. Lovejoy(eds. ), Biblical hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting scripture, pp. 21–38, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Van Rooy, H. F., 2016, ‘Die boek Esegiël in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 50(3), 1–8. https://doi. org/10. 4102/ids. v50i3. 1971
Wells, J. B., 2000, God’s holy people: A theme in Biblical theology, Bloomsbury, London.
Williams, M., 2011, The doctrine of salvation in the First Letter of Peter, Society For New Testament Studies, Cambridge University Press, New York, NY.
Wright, C. J. H., 2021, Exodus, The Story of God Bible Commentary, Zondervan Academic, Grand Rapids, MI.
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer
© 2025. This work is published under https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/ (the “License”). Notwithstanding the ProQuest Terms and Conditions, you may use this content in accordance with the terms of the License.
Abstract
The use of Exodus 19–24 in 1 Peter 1:2 – An exegetical investigation. 1 Peter shows an exceptional number of quotations from and references to the Old Testament. Although much has already been written about the author of 1 Peter’s use of the Old Testament, little attention is given to the possibility that the author already has the Old Testament in mind in 1 Peter 1:2. This article investigates whether Peter, with the three prepositional phrases in 1:2, has specific Old Testament passages in mind. Greater clarity regarding Peter’s intention with the three prepositional phrases in 1:2 is achieved by placing the phrases within the context of 1 Peter. It is then examined whether Peter refers to specific Old Testament passages with each of the three phrases. The grammatical-historical model of exegesis, as practiced within the Reformed tradition, is followed in this article. Peter’s three prepositional phrases in 1:2 refer to the covenant events as described in Exodus 19–24. With the prepositional phrase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, he refers to God’s redemptive plan as outlined in Exodus 19:3–8. The prepositional phrase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, reflects both God’s holiness and Israel’s holiness as recorded in Exodus 19–24. The prepositional phrase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, refers to Israel’s obedience and the confirmation of the covenant between God and Israel as described in Exodus 24:3–8.
Contribution:The importance of research on the New Testament authors’ use of the Old Testament is widely acknowledged by exegetes. This article indicates that in 1 Peter 1:2, the three prepositional phrases refer to the covenant events in Exodus 19–24. By identifying the reference to the Old Testament in 1 Peter 1:2, the groundwork is laid in this article for further research on Peter’s use of Exodus 19–24. For example, recognising Peter’s reference to Exodus 19–24 in the salutation of his letter provides the opportunity for closer examination of Peter’s interpretive, theological, and rhetorical use of the covenant events as recorded in Exodus 19–24 in 1 Peter 1:2 and throughout the remainder of the letter.
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer