Elektroniese WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal, A tot R). CD-ROM. ISBN 978-0-981-4434-1-6. Stellenbosch: Buro van die WAT. Prys: R450.
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is die omvangrykste projek ooit rondom die Afrikaanse woordeskat. Dit dokumenteer hierdie woordeskat in sy wydste omvang - nie slegs Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite van Afrikaans. Alle vorme, hetsy dit omgangstaal, spreektaal, streektaal of standaardtaal is, word weerspieël. Vir alle moderne en kontemporêre gebruikers is dit nou ook in elektroniese formaat beskikbaar. Dit behels 'n omvattende, elektroniese verwysingsbron met gevorderde soekfunksies wat nie bloot die data van die gedrukte dele van die WAT bevat nie, maar ook 'n kerntesourus van Afrikaans as bonus het.
Toe die Elektroniese WAT die eerste keer die lig gesien het op 28 Maart 2003, het die WAT sy plek ingeneem langs die leidende woordeboeke van die wêreld, soos die Oxford English Dictionary en die Woordenboek der Nederlandsche Taal. Aanprysings van tóé is vandag nog net so relevant. George Weideman het die elektroniese WAT 'n hulpmiddel genoem waarsonder 'n skrywer nie kan klaarkom nie. Nicoline van der Sijs, Nederlandse leksikograaf, het die funksionaliteit daarvan soos volg beskryf: "Het werkt als een trein. Heel erg goed." Telkens wanneer 'n nuwe, gedrukte volume van die WAT dus gepubliseer word, word die Elektroniese WAT dienooreenkomstig bygewerk en is dan op die internet, sowel as in CD-formaat beskikbaar en bied bykomende elektroniese moontlikhede en gebruikshulp. Die Elektroniese WAT (A tot R) het dus verskyn na die publikasie van Deel XIII van die WAT (die letter R) in Julie 2009. Die CD-ROM installeer maklik op enige rekenaar mits die minimum stelselvereistes verreken word - spesiale instellings vir Windows 98 en vroeër is nodig.
Kortliks: die Elektroniese WAT is maklik toeganklik ingedeel in 'n voorwoord, gebruikersgids, toeligting, voortekste, sentrale teks (A-R) en agtertekste. Indien die plus-teken langs elkeen van dié skakels gekies word, word verdere lae inligting blootgelê. Die Elektroniese WAT bied die omvangryke inligting wat in 13 WAT-dele (A tot R) vervat is - die ekwivalent van meer as 8 800 gedrukte bladsye. Verder is die Elektroniese WAT die omvattendste weerspieëling van die Afrikaanse woordeskat wat beskikbaar is met nagenoeg 200 000 verklaarde inskrywings. 'n Gebruikersvriendelike, vinnige en effektiewe kitssoekfasiliteit vir lemmas, etimologieë, woordsoorte en etikette, is die grootste pluspunt van die Elektroniese WAT. Ander soorte soektogte is ook moontlik. Verder maak kleurgekodeerde inligtingstipes, in verskillende style, naslaanwerk baie eenvoudig. Met die kliek van die muis op 'n skakel kan daar vinnig van een inskrywing na 'n ander, selfs tussen kruisverwysings, rondbeweeg word - en dit sonder om die afgelope soektog se resultate te verloor. Ek het gewonder hoe die Elektroniese WAT die situasie hanteer waar daar kruisverwys behoort te word tussen lemmas en een van die lemmas in die reeds bewerkte gedeelte val en die ander lemma in die nog onbewerkte gedeelte S-Z, bv. taren- taal = poelpetaat. Onder die lemma poelpetaat was 'n hele paar weergawes van die woord, maar ook die lemma tarentaal. Uiteraard was tarentaal nie 'n aktiewe skakel nie, aangesien die letter T nog nie bewerk is nie. As 'n toets sleutel ek toe wel tarentaal in en kry inderdaad verwysings na tarentaal in die definisie van kuifkoptarentaal (want die letter K is reeds bewerk).
Indien iemand nie presies weet na watter woord hy moet soek nie en net 'n paar letters aan hom bekend is, kan wildekaart-soektogte onderneem word. So kan gesoute blokkiesraaiselopstellers uitoorlê word. Blokkiesraaiselinvullers wat nog net enkele letters van 'n woord het, of nie weet hoe die woord gespel word nie, kan vraagtekens gebruik om die regte woord op te soek. Indien die leidraad "snydokter" is en iemand weet nie hoe die sinoniem gespel word nie, of net enkele letters is beskikbaar, kan hy bv. "??ir?rg" in die soekskerm invul en die resultaat dui op "chirurg".
Gevorderde soektogte, bv. vir uitdrukkings en frases, is ook moontlik. Die woorde en uitdrukkings in hierdie woordeboek kom uit die geskrewe én gesproke taal en sluit streektaal, geselstaal en die variëteite van Afrikaans in wat uit omvattende sitaatversamelings en korpora verkry is. Voorbeeldmateriaal bestaan uit sitate en kollokasies wat kursief gedruk word. Sitate kan opgespoor word volgens onder meer die skrywer, bron of trefwoord (of kombinasies hiervan). Ek wou onlangs kyk hoeveel verwysings na Von Wielligh daar in die WAT as geheel is en kon dit met die druk van 'n knoppie uitvind - daar is selfs verwysings na hom in die voortekste.
Illustrasiesketse (in dele A-K) is verwyder uit die sentrale teks en die volbladillustrasies is saamgegroepeer in die agtertekste van die woordeboek. Daar is leersame, dikwels volkleurillustrasies, soms met byskrifte, wat onderwerpe soos die volgende dek: Suid-Afrikaanse voëls, insekte, houtsoorte, gifplante, skoenlappers, motte, skulpe, krappe en krewe, klipwerktuie, wildsbokke, edel- en halfedelgesteentes, en talle meer. Illustrasies is ingevoeg ter aanvulling van die woorddefinisies.
Kitswenke om basiese soektogte te doen is maklik, in drie stappe.
Om die betekenis van 'n woord (A tot R) te vind:
Stap 1: Sleutel [Ctrl en 1] in.
Stap 2: Tik die woord by [Soek vir Lemma] in.
Stap 3: Druk [OK].
Om te sien hoeveel maal en waar 'n bepaalde woord (A-Z) in die WAT voorkom:
Stap 1: Druk die snelskakel [F2].
Stap 2: Tik die woord in by die teksvenster.
Stap 3: Druk [OK]. (Tydens die proses kan daar in die resultaatuit leg die hoeveelheid kere wat die lemma voorkom, gesien word. Daar kan ook met "Volgende resultaat" en "Vorige resultaat" tussen soekresultate genavigeer word.)
Om 'n frase te soek:
Stap 1: Druk die snelskakel [F2].
Stap 2: Tik die frase tussen aanhalingstekens in by die teksvenster.
Stap 3: Druk [OK].
As bonus is 'n faksimileeweergawe van die bron, Woordkeusegids, 'n kerntesourus van Afrikaans, bygevoeg. Ook die Woordkeusegids is ingedeel in 'n voorwoord, gebruikstoeligting, afkortingslys en die alfabetiese lys (in hierdie geval van A-Z). Alle verwysings is aktiewe skakels. Die woordkeusegids voorsien die gebruiker nie net van sinonieme nie, maar ook woorde wat logieserwys aan die lemma verwant is en dus in dieselfde begrips- of saakkategorie as die lemma hoort, bv.
fiets s.nw. 1 rywiel, baiesukkel (skertsend), martelpyp (skertsend),
2 trapfiets, skopfiets, kragfiets, motorfiets, tandem, tandemfiets, eenwielfiets, driewiel, mansfiets, damesfiets, kinderfiets, resiesfiets, baanfiets, veldfiets, bergfiets, padfiets, sportfiets, toerfiets.
'n Toekomsperspektief: met die volgende uitgawe van die Elektroniese WAT sal die eerste van drie gedeeltes vir die letter S bygevoeg word. Ten spyte van 'n afgeskaalde staatsubsidie, verrig die Buro van die WAT 'n enorme taak op die terrein van die Afrikaanse woordeskat. Dit bly so kontemporêr dat die Afrikaanse leksikografie wêreldwyd as toonaangewend beskou word.
Die Elektroniese WAT (A tot R) op CD-ROM kos R450 en indien iemand reeds die Elektroniese WAT (A tot Q) besit, betaal hy R150 vir die volgende deel se bywerking. Die CD kan gekoop word by die WAT te Banghoekweg 115, Stellenbosch, of bestel word by 021 887 3113 of [email protected], of deur 'n bestelvorm by www.wat.co.za te kry. Gebruikers kan as alternatief inteken op die Internet-weergawe, teen 'n koste van R150 per jaar, by http://www. woordeboek.co.za. Geregistreerde gebruikers bly ingelig aangaande bywerkings en kry selfs afslag daarop en, indien benodig, produkondersteuningshulp.
Corlietha Swart
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein
Suid-Afrika
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer
Copyright Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Bureau of the WAT) 2010
Abstract
Toe die Elektroniese WAT die eerste keer die lig gesien het op 28 Maart 2003, het die WAT sy plek ingeneem langs die leidende woordeboeke van die wêreld, soos die Oxford English Dictionary en die Woordenboek der Nederlandsche Taal. Blokkiesraaiselinvullers wat nog net enkele letters van 'n woord het, of nie weet hoe die woord gespel word nie, kan vraagtekens gebruik om die regte woord op te soek. Indien die leidraad "snydokter" is en iemand weet nie hoe die sinoniem gespel word nie, of net enkele letters is beskikbaar, kan hy bv. "??ir?rg" in die soekskerm invul en die resultaat dui op "chirurg".
You have requested "on-the-fly" machine translation of selected content from our databases. This functionality is provided solely for your convenience and is in no way intended to replace human translation. Show full disclaimer
Neither ProQuest nor its licensors make any representations or warranties with respect to the translations. The translations are automatically generated "AS IS" and "AS AVAILABLE" and are not retained in our systems. PROQUEST AND ITS LICENSORS SPECIFICALLY DISCLAIM ANY AND ALL EXPRESS OR IMPLIED WARRANTIES, INCLUDING WITHOUT LIMITATION, ANY WARRANTIES FOR AVAILABILITY, ACCURACY, TIMELINESS, COMPLETENESS, NON-INFRINGMENT, MERCHANTABILITY OR FITNESS FOR A PARTICULAR PURPOSE. Your use of the translations is subject to all use restrictions contained in your Electronic Products License Agreement and by using the translation functionality you agree to forgo any and all claims against ProQuest or its licensors for your use of the translation functionality and any output derived there from. Hide full disclaimer